SA Savannah

Oorsprong van die ras

Die ontwikkeling van die wit Savannabok het in 1955 begin, op die plaas van Mnre. DSU Cilliers en Seuns, in ‘n min sorg gebied langs die Vaalrivier waar temperature en reënval baie varieer en daar van die bokke verwag is om aan te pas, te oorleef en aan te teel op tipiese savannaveld. Plaaslike veelkleurige flapoor bokooie en ‘n groot wit bokram was gebruik as basiskudde. Die resultaat was ‘n vrugbare, hitte, parasiet- en droogte verdraagsame bok met goeie vleiseienskappe.

Groei in die belangstelling van die Savannabok het gelei tot die erkenning van die bok as ‘n eiesoortige ras. Die Savanna Boktelersgenootskap is in 1993 gestig.

Algemene Beskrywing

‘n Medium tot groot wit flapoor bok met ‘n dik beweeglike vel en ‘n kort gladde haarkleed. Ten spyte van die wit kleur, is die Savannabok baie goed gepigmenteer en alle haarlose areas is swart tot bruin gekleurd.

 

Eienskappe:

  • Vrugbaar met goeie moedereienskappe. Ooie lam op die veld en bind goed met hul lammers.
  • Meervoudige geboortes.
  • Goeie groei vanaf die veld.
  • Gebalanseerde karkas met min vet en sagte smaaklike vleis.
  • Baie doeltreffende kossoekers, wei goed, benut grasse en beheer bos en onkruid baie effektief.
  • Goed gepigmenteer.
  • Parasiet bestand /verdraagsaam
  • Hitte tolerant
  • Gelykmatige temperament maklike sorg met maksimum wins.