The Blog

Boer suksesvol met bokke in die Gordonia gebied

Boer suksesvol met bokke in die Gordonia gebied

– deur Freddie Stolper

Voeding (Watter tipe weiding kom daar voor/giftige plante?)

Die Gordonia streek het duine sowel as harde veld en albei se plantegroei verskil. Die duine gedeelte het hoofsaaklik kort en langbeen boesmangras met suurgras tussen in, daar kom ook duinegras teen duine voor met vaal kameeldoring bome. Hardeveld word weer meer gekenmerk deur verskeie bossies bv. kapokbos en gannabos, struike en bome soos wag ʼn bietjie, prosopis en swarthaak. Daar is by my 2 gifplante wat skade kan veroorsaak die een is vermeerbos met sy kenmerkende reuk en geel blomme, wat diere siek maak en kan laat vrek as hul te veel inkry, en malkopuie wat baie giftig is.

Paartyd?/Op watter gewig/ouderdom word bokke gepaar?/Op watter gewig/ouderdom word bokkies gespeen?

Paartyd is by my dwarsdeur die jaar om te alle tye ramme en ooie beskikbaar te hê vir die mark.

Die geneigdheid hier by ons is dat die ooie in Januarie ram vat en Junie/Julie lam. Ek skryf dit toe aan die buie reën wat baie keer gedurende Januarie maand val en dan die ooie afkoel en op hitte bring, maar dit is wat ek dink, niks is nog bewys nie. Ek paar ooie tussen 10 maande en 2 tand. Die paargewig is 40 kg. Ek speen ramlammers op 3 maande en ooitjies tussen 4-6 maande, afhangende van omstandighede. 

Siektes

Ons bly eintlik in ‘n baie gesonde wêreld en diere in die veld raak min tot nooit siek nie. Bokke kry siektes in voerkrale en wissel van koksidiose tot pasteurella. Lammers in veld is baie keer geneig om vuilbek te kry omdat hulle op swarthaak wei wat baie keer die lippe hak. Hartwater kom nie in ons omgewing voor nie. Wurmlading is in hierdie omgewing ook baie laer as bv. in Bosveld.

 Bemarking

Deur klub en ander veilings, ook baie spekulante op Upington wat bokke oor die skaal koop.

 Intensief/ekstensief

Meeste boere boer ekstensief, maar daar is ook wat intensief boer op aangeplante weidings.

 Boererate

Stocholmteer of suurlemoen wat jy kan aansmeer vir vuilbekvratte! Party boere smeer ook ou enjin olie aan!

Comments are closed.