The Blog

Boer suksesvol met Boerbokke, Kalahari reds en Savannas in die Sentrale Binneland Omgewing -

Boer suksesvol met Boerbokke, Kalahari reds en Savannas in die Sentrale Binneland Omgewing – Deur Albert van Zyl

‘n Boerbokklub is vir die gebied gestig in Januarie 2004 te Ventersdorp in die N.W. Provinsie deur die inisiatief van me. Ansunet Cilliers wat as die Klub Voorsitter ook die eerste vrou was wat op die Raad van die S.A. Boerboktelersvereniging gedien het.

Die Klub het met sy ontstaan die weg gebaan vir die vinnige verspreiding van die S.A. Boerbok oor die hele binneland gebied wat tot gevolg het dat daar nog twee Boerbokklubs ontstaan het uit die oorspronklike Binnelandse Klub.

Boerbok boerdery in die gebied word hoofsaaklik gebaseer op semi-ekstensiewe weiding toestande wat wissel van natuurlike gemengde gras en struik weiding tot aangeplante somer- en winter weidings. Akasia bosweiding kom ook nog geredelik voor in die Klub se gebied. Gifplante soos die Inkbossie en Gifblaar kom beperk voor in die gebied, maar dit is maklik beheerbaar.

Die gebied beleef koue medium tot lang winters wat meebring dat jong bokkies stadiger groei tot volwassenheid onder normale weidingstoestande. Jong ooitjies word dus normaalweg eers op 12-14 maande. ouderdom gepaar.

As gevolg van die goeie en volop weiding speen boklammers op 100 dae ouderdom maklik tussen 25 – 28kg op die hoef.

Vanweë die gebied se goeie reënval vereis dit ‘n gereelde en gedissiplineerde doseerprogram sover dit lintwurm en haarwurm beheer aangaan. Die gebied se wisselende dag en nag temperatuur vereis ‘n ses-maandelikse pasteurella inenting eerder as ‘n jaarlikse inenting. Klostridium inentings voor die somer reënseisoen is ook ‘n vereiste ten einde grootskaalse vrektes by jong bokkies te voorkom.

Bemarking: Die gebied se groot swart woonbuurtes bied ‘n onversadigbare mark vir lewendige uitskot en slagbokke terwyl die KZN mark vir ligter boklammers heeltemal binne bereik is hoofsaaklik deur die onderskeie agente. Weeklikse en maandelikse veeveilings oor die gebied lewer uitstekende pryse vir bokke op die hoef veral voor die Paasfees en Kersfees seisoen.

Boerbokboerdery in die gebied is baie winsgewend en hoe beter dit bestuur word, hoe beter resultate lewer dit op.

Boereraat: Boerbokboerdery is nie vir lui mense bedoel nie!

Comments are closed.