SA Boerbok

(Prof E Terblanche – Hierjy Boerbok!)

Met die koms van die blanke na Suid-Afrika was die bok reeds hier aanwesig. Verskeie navorsers en skrywers soos Schreiner (1898) Barrow (1801), Pepler (1886) Epstein (1972) en andere het beskrywings en verklarings probeer gee waar die voorouers van die Boerbok vandaan kom en hoe hulle hier beland het. Europa, Indië, Egipte en Nubia word genoem en die roetes van Noord-Afrika na Suid-Afrika was waarskynlik langs die Wes- en Ooskus af.

Die Blankes het die eerste bokke teen ongeveer 1661 in die omgewing van die huidige Clanwilliam teëgekom en die Namakwas in wie se besit die bokke was, het getuig dat hulle afkomstig was van die Batlapin-stam in Botswana. Die invoer van melkbokke uit Switserland en Duitsland in die begin van die 20ste eeu, het daartoe bygedra dat ‘n Boerbok oor die jare ontstaan het wat eintlik ‘n variasie van tipes verteenwoordig het.

Van Rensburg (1938) considered the goats found in South Africa and classified them as follows:

  • Milk goats (pure imported breeds)
  • Angoras or silky goats and
  • Boer goats

Die Boerbokke word weer ingedeel in:

A) die gewone Boerbok, soos

(I) skilder,

(II) briekwa,

(III) muisoor, en

(IV) wit Boerbok;

B) Die jas of langhaar; en

C) Die langoor poenskop

A) Die gewone Boerbok – Dis ‘n kompakte, fyn kwaliteit, korthaar bok met eweredige liggaamsbou wat gewild is by slagters weens sy vel en vleis. Die bok kan al op ‘n jong leeftyd in goeie kondisie geslag word. Die bokooie gee goed melk en is algemeen populêr. Die volgende ondersoorte kom in hierdie groep voor:

(I) Die skilder

(II) Die briekwa, met definitiewe kleurskema aan die kop, nl geel en bruinvlekke om die oë, op die wange en bek.

(III) Die muisoor. Soos by die karakoelskaap kom by Boerbokke die variasies ook voor in die grootte van die oor, en die tipes met ‘n klein muisoortjie, soms te klein om te merk, is bekend as die “muisoor”.

(IV) Die wit Boerbok, soms wit met bruin nek en kop. Alle kleure kom voor.

B) Die jas of langhaar. Hy is swaar van kop, swaar van horings, swaar van skouer, grof van been en klou en grof van vleis. Dis ‘n langhaar bok net oor die agterlyf of oor die hele liggaam. Hy kan alleen op volgroeide leeftyd in goeie kondisie geslag word en het ‘n growwe, swaar vel.

C) Die langhaar poenskop. Hierdie tipe is verkry deur kruisings met ingevoerde melktipes, en soms word aan die suiwer melktipes ook hierdie benaming gegee. Dit het ‘n ligte, fyn kop sonder horings, krom neus, lang ore, en die bouvorm van die melktipe; is gewoonlik kort van haar en alle kleure word aangetref. Die meeste Boerbokkuddes was ‘n mengelmoes van bogenoemde tipes en so verbaster dat ‘n juiste indeling volgens tipe soms moeilik was.

Van Rensburg (1938) vervolg en sê “dat alhoewel daar in die verlede min aandag gegee was aan die teelt van Boerbokke, was daar tog progressiewe boere, veral in die distrikte waar ook intensiewe verbouing plaasgevind het, wat aandag begin skenk het aan die seleksie en teelt van Boerbokke. So was daar op sommige tentoonstellings klasse vir beoordeling, volgens verskillende ouderdomme gemaak, dog daar was egter ‘n gebrek aan die nodige gegewens en aan eenvormigheid van beoordeling.” In samewerking met ‘n paar van die boere, asook met kopers en slagters, is hierdie gegewens versamel, en met die min lektuur beskikbaar omtrent die onderwerp, is ‘n punteskaal vir Boerbokke ontwerp wat later as basis gebruik is toe ‘n punteskaal vir die veredelde Boerbok nodig geword het.